Tydens 'n telefoon gesprek het die ander persoon verdoemend gepraat oor ander gelowe. Ek het probeer om 'n ander siening uit te spreek, maar die het individu my onderbreek met, "Nee. Ons kom ooreen om nie ooreen te kom nie". Ek respekteer natuurlik die persoon se reg om seker te wees in sy geloof en ek is bly daaroor. Anders as baie kergangers van baie gelowe, glo ek persoonlik dit is verkeerd om 'n ander mens met agressiewe argumentasie te probeer oortuig dat sy geloof verkeerd is. Ek dink hier veral aan iets wat jare gelede aan my gesê is: "Oppas dat iemand nie eendag vir jou sê, 'Jy het my God van my af weg geneem en ek weet nie waar jy Hom neer gelê het nie."
Omdat 'n liefdevolle uitruiling van sieninge wel na my mening toelaatbaar. is het ek die volgende brief aan die persoon gestuur:
Ons telefoon gesprek: ek voel ek moet jou die volgende vertel en vra dat jy met ‘n oop hart en verstand na my luister:
As God Almagtig is en ook Alomteenwoordig, dan volg dit logies dat NIKS buite God se Heelal bestaan nie. Die Bybel vertel ons “Ek is die Alfa en die Omega”. Daar is net Een God. Ons Almagtige Vader styg uit bo die afgode wat mense vir hulleself skep. In die nuwe bedeling (Nuwe Testament) is God nie meer die ‘Jaloerse God’ van die Ou Testament nie. Jesus het die omvêr gewerp. Hy het ons kom vertel dat Hy die God van die Liefde is. En ons weet ook uit Sy Woord dat Liefde Vergifnis insluit.
Wat dit op neerkom is dat God Oneindig Groter is as die name wat klein mensies aan hom toedig. Mohammed en Buddha het nooit gesê hulle is God nie. Hulle het wel gesê hulle is boodskappers van God. Daar’s die verskil. As jy hulle werke lees, sal jy sien hulle praat werklik ook van die Enige God, onse Vader. Hulle benadering tot Hom kom met groot kultuur-, begrips- en taal-verskille. Dus, in sy Oneindige Genade, maak Hy ook plek in sy Skepping vir alle wesens, ook vir die Mohammedane, Buddhiste, en so meer.
God het hom net eenkeer in die ganse geskiedenis as ‘n mens geopenbaar… Jesus het met sy doop God se Gees ontvang en Hy is die Christus, wat beteken “die gesalfde”. Jesus is die ‘enig-gebore Seun van God’. Hy IS God.
Wie is ons om te sê dat God nie boodskappers gebruik het om sy Waarheid op spesifieke maniere onder selfs baie primitiewe mense te verkondig nie? Daar was baie boodskappers wat op tydvakke in die geskiedenis gekom met boodskappe wat so ingekleur was dat die mense van daardie tye, kulture en tale dit kon verstaan. Die Boesmans het byvoorbeeld ook EEN God aanbid. Hulle het gepraat van !Num, die Gees van God wat jou totaal vul. Maar die sogenaamde Christene wat hierheen gekom het, het hulle soos diere gejag. Die Kaapse parlement het selfs ‘n beloning van ‘n Half-Kroon vir ‘n stel boesman-ore betaal. Net omdat ‘n mens sê hy is ‘n Christen, en aan ‘n Christen kerk behoort, beteken nie hy is wel ‘n Christen nie. Andersom, net omdat ‘n mens sê hy is ‘n Hindu, beteken dit nie noodwendig dat die Christus nie ook in hom Leef nie – net soos Hy in jou en in my leef. Christus soek nie mooi woorde by ons nie. Hy soek dade wat uit Liefde stroom. En, waar jy sulke dade sien, daar sien jy ook vir Christus in daardie mense.
Die Romeine en Grieke het baie gode gehad – dit was in ‘n stadium van die mensdom se geestelike ontwikkeling waar dit al was wat hulle van die Almagtigheid kon begryp. Dit beteken dat alhoewel hulle het reeds 'n 'Gods-bewussyn' gehad het, hulle nie geweet het dat die Allerhoogste wel God van die Liefde is nie. Dit was Christus self – God as Mens - wat daardie nuwe boodskap vir ons gebring het. Glo jy dat al die mense wat op aarde geleef het voor die koms van Christus, en daarom nooit die Grootste Boodskap ontvang het nie, verdoem is tot die hel? Glo jy dat God se liefde so kleinlik is? Dit is wat jy by implikasie sê as jy ander gelowe verdoem.
Ek glo Hy weerhou Sy Liefde van niemand nie, ook nie van die Jode, die Mohammedane, die Hindus en die Buddhiste nie. Kerke wil soms om materiële redes, so lyk dit my, graag hê dat die boodskap van ‘n Jaloerse God moet seëvier. Hulle doen verkeerd. Of jy verkondig die nuwe verbond, of jy verkondig dit nie. Jy kan nie pick en choose nie. Dis alles of niks. Die klein mensies van groot Kerke doen dikwels enigiets om hulle materiële belange te beskerm, en doen dit eeue al… die Rooms Katolieke Kerk is ‘n voorbeeld hiervan. Hulle het die Bybel oor en oor herskryf en waarhede en feite verdoesel dat dit by hulle politieke en ander doelwitte moet inpas. Daar is net een Waarheid, maak nie saak hoe mense dit probeer verdraai om in te pas by spesifieke gelowe se materiële doelwitte nie.
Dit maak nie saak wat ‘n mens homself noem nie. Hoe jy jou lewe leef, vertel die waarheid van wie en wat jy is. Daar is ook goeie Romeins Katolieke, en Buddhiste en Mohammedane wat die Waarheid van God in hulle lewens uitleef. Die Opperwese is bo klein-menslikheid verhewe. En nie die Christene, nie die Buddhiste, nie enige van al die ander gelowe op die aarde vandag, mag die eerste klip op tel nie. Enige mens wat haat en verdagmaking teen andere versprei, en dan sê dis die Bybel of Christus, of Mohammed self, of wie ookal, wat dit aan hom openbaar gemaak het, het nie goed geluister nie. Jy mag ook nie ‘n klip optel teen enige ander geloof nie, maak nie saak wat mense jou vertel nie.
Daarom is dit ook so dat net die Gees van God, die Vader, wat binne in elkeen van ons woon, (en wat totaal onafhanklik is van mensgemaakte kerke en gelowe), die Bybel se werklike betekenisse vir ons kan openbaar. Ons kan die Waarheid net in ons binnekamer van die hart ontvang wanneer ons stil raak en in gebed en in meditasie met God verkeer. (Gebed is wanneer ons met God praat. Meditasie is wanneer ons, ons gedagtes stil maak en na God luister)
Die waarheid, wat ek in my eie binnekamer gevind het, is dit: Ons is almal Kinders van God. Dit maak nie saak aan watter geloof ons behoort nie - elkeen van ons moet ‘n Boodskapper van God wees… ons moet die Groot Boodskap van Liefde aan almal bring, nie deur wat ons sê nie, maar deur die voorbeeld van ons lewens. Jesus self het gesê, “En nou bly geloof, hoop, liefde —hierdie drie; maar die grootste hiervan is die Liefde. (1Kol 13:13)
‘n Mens moet jou vyande liefhê soos jouself en vreemdelinge dien soos jy jou familie dien.
| < Prev | Next > |
|---|
